Baie welkom by SAGNorwich se webtuiste!
SA Gemeente is 'n inter-denominale, Christen gemeente van grootliks Afrikaans sprekende Suid-Afrikaners wat tans in die VK bly. Ons bedien meer as 5000 Christene in ons gemeente!
Ons fundeer ons leer op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. In dié Woord openbaar God Hom as Vader, Seun en Heilige Gees.
Ons het verskeie bedieningspunte regoor die VK wat bestuur word uit vier wyksgemeentes - Londen, Suidwyk, Noordwyk en Middellande wyk
SAGNorwich val onder die vaandel van Noordwyk, maar word sedert 2007 deur 'n selfstandige leierskap uit SAGNorwich bestuur.
Ons gemeentelede hier in Norwich bestaan uit 'n mengsel van " working holiday makers", jonggetroudes wat langer bly en met 'n gesin begin en professionele mense wat langtermyn hier bly om aan hulle loopbane te bou.
In die VK soek nuwelinge dikwels 'n hart wat omgee en verstaan. Ons almal gaan deur dieselfde prosesse van aanpassing en ontwrigting, daarom is ons aangewese op mekaar vir ondersteuning en bystand.
Hier in East Anglia wil ons hierdie hart wees vir mekaar en plek maak vir elke nuweling wat by ons inskakel. Ons nooi jou uit om deel te wees van ons groot familie en die vriendskap en liefde te geniet wat ons mense vir jou wil gee. Die vriendskapsbande wat hier gesmee word maak vir ons 'n nuwe pad oop na 'n opwindende reis hier in die buiteland as familie van God.
Ons kom elke 1ste en 3de Sondag van die maand bymekaar in Bawburgh se gemeenskapsaal. Die dienste begin 10:00 en na die diens kry almal kans om lekker saam te kuier oor 'n drink dingetjie en die laaste paar weke se nuus op te vang.
Daar is ook 'n aantal selgroepe regoor East Anglia waarby jy kan aansluit om jou spiritualiteits reis soveelmeer aangenaam en produktief te maak. Daarby is daar ook vele bedienings waarby jy kan betrokke raak. Net nóg 'n manier om jou vriendskapsbande op te bou en deel te word van hierdie wonderlike en warm familie in die Ooste van Engeland.


